Nuus

CONRADIE, LAPSLEY WEN MURRAY- EN TUTU-PRYSE

Die Andrew Murrayprys vir Afrikaanse teologiese publikasies is vanjaar gewen deur prof Ernst Conradie van die Universiteit van Wes-Kaapland vir sy boek Lewend en kragtig? In gesprek oor God se handelinge in die wêreld. 

Die Andrew Murray-Desmond Tutuprys vir Christelike en teologiese publikasies in enige amptelike taal van Suid-Afrika is gewen deur Vader Michael Lapsley vir Redeeming the past. My journey from Freedom Fighter to Healer.

Die Uitvoerende Raad van die Andrew Murray-prysfonds het ook aangekondig dat ‘n spesiale Andrew Murray-toekenning gemaak gaan word aan Neels Jackson, spesialis-godsdiensverslaggewer van Media24 se koerante.

Conradie se boek word beskryf as “asemrowend, met ‘n skitterende integrasie van wetenskap en geloof. Dit getuig van sowel ‘n ensiklopediese kennis van sy vakgebied, as ‘n besonderse aanvoeling vir kontemporêre spiritualiteit.” Die beoordelaars was prof Christina Landman, eerw Edwin Arrison en prof Hendrik Bosman. Die boek is deur Bybel-Media uitgegee. Vyf uitgewers het vanjaar boeke vir hierdie kategorie ingeskryf.

Lapsley se boek is volgens die beoordelaars ‘n aangrypende en inspirerende verhaal van iemand wat persoonlik ‘n baie duur prys betaal het vir sy verbintenis tot die vryheidstryd in apartheid-Suid-Afrika: hy het sy hande in ‘n briefbom-aanval verloor. “‘n Groeiende bewussyn van die radikale eise van die evangelie het hom hiertoe gemotiveer. In post-apartheid-Suid-Afrika het hy ‘n nuwe roeping ervaar: die genesing van ons land se mense. Vanuit sy ervaring van trauma en gebrokenheid het hy mense begin help met húlle gebrokenheid, iets wat ons land en geweldgeteisterde wêreld so nodig het.” Die boek is uitgegee deur Struik Christian Media. Die beoordelaars was dr Chris Jones, eerw Rowan Smith en prof Fanie Snyman. Agt uitgewers, onder wie ook van die buiteland, het boeke vir hierdie kategorie ingeskryf.

Neels Jackson word vereer vir sy gebalanseerde beriggewing oor baie jare van kerklike en godsdienstige sake wat van buitengewone insig, kennis en deernis getuig.

Die pryse word in Mei op Wellington aan die wenners oorhandig. Dit is vanjaar die 185ste herdenking van die geboorte van die bekende predikantskrywer van Wellington, Andrew Murray.

FRITS GAUM
Voorsitter: Andrew Murrayprysfonds

KAAPSTAD
4 April 2013